Latest Articles

2009-02-21

AFRIKAANS SHORT STORY - A NEW TAKE ON THE GOOD SAMARITAN

DIE BARMHARTIGE SAMARITAAN

Enigeen wat die lang pad Gauteng toe van die Kaap af per motor aanpak, weet dat dit 'n hele projek op sy eie is. Die besluite wat voor die tyd geneem moet word, neem ure se beplanning in beslag. Natuurlik maak dit nie saak dat dit die derde rit op transvaal toe is vir die jaar nie: as mens familie het wat maklik uitstres oor elke detail, dan sit jy maar sugtend om die tafel en vind weer die spreekwoordelike wiel uit.


Gelukkig was hierdie keer anders. Ouma is oppad terug huis toe nadat sy 'n jaar by ons gebly het. Ons beplanning het hierdie slag ingesluit hoe ons haar motor en meubels gaan terugkry in Rustenburg. Die motor was maklik – ons het 'n familielid met 'n vliegtuigkaartjie omgekoop om Kaap toe te kom vir 'n gratis vakansie. En dit was na baie sommetjies die beste om buurman se sleepwa te leen. Ek kon nie te veel brom oor die lysies en middernagtelike gang-staan beraadslagings nie. Oor een ding het ek egter vasgeskop. My kar weet hoeveel petrol hy nodig het. Ek gaan nie vooraf van vol tenk tot vol tenk ry en sommetjies maak om die petrolbegroting op die sent uit te werk nie.

"Moenie by my kom huil as jy sonder petrolgeld sit nie!" is ouma se leedvermakerige woorde as ek knorrig raak.


Dis lekker om 'n langpad so vroeg in die oggend aan te pak. Nie alleen kom mens dieselfde dag nog anderkant aan nie, die kinders raak eers teen middagete hiperaktief en teen die tyd dat mens reg is om hulle te vermoor, is die ryery afgehandel. Dis dan ook so met ons rit Rustenburg toe. Die kinders is laat genoeg in die bed gesit om nie wakker te raak toe ek hulle kar toe dra nie; en die brandstoftenk is gevul met die nodige. Toe die kar op spoed kom, is dit duidelik dat die sleepwa nie om die naaste draai gaan kantel of in die Hugenotetonnel sy vrag gaan afgooi nie. Op Laingsburg kry ons selfs bestuurders geruil sonder dat my spruite hulle koppe oplig.


Met Ouma agter die stuur begin die moeilikheid.

"Is hier nog genoeg brandstof in?" kom die vraag na tien kilometer.

"Die kar is dan net onder half, Ma!" Ouma se lyftaal wys dat sy nie saamstem nie. Ek sak terug teen die venster en probeer desperaat nog slaap inkry. Kort voor lank word die vraag herhaal.

"Die kar is kwart!" Hoekom moet Ouma dit altyd laat klink of 'n moord gepleeg word as sy vir iets skrik, wonder ek vies.

"Ma, ek ken my kar, ons sal dit maak!" en ek draai summier terug na my droom oor flitsende bome toe. Twintig minute later kom dit weer.

"Die petrolliggie is aan!!"

"Ja, en?" vra ek vies.

"Ek gaan brandstof ingooi," sê Ouma. Leeu-Gamka flits verby, met die laaste petrolpomp voor Beaufort-Wes.

"Ma, die kar sal hou tot Beaufort. As Ma nou petrol ingooi, neuk Ma met my beplanning rond. Buitendien, mens ry amper 60 kilometer op die reserwetenk." Ouma reageer deur die stuurwiel so styf vas te hou dat haar vingers wit raak.

"Dis nog sewentig kilometer," antwoord sy met 'n dun stemmetjie. "Wat gaan jy maak as ons gaan staan?"

"Dan vat ek maar 'n ou botteltjie en stap dorp toe," kom my ongeërgde reaksie. Ek haat dit as Ouma haar stresse op ons almal uithaal. "Ma, ontspan! Ons sal dit maak! Ry net stadiger." Ek het immers al voorheen van Kaapstad af gery met hierdie kar en ons het gery tot by die petrolpomp anderkant die dorp.


Kommer is egter aansteeklik. Ek betrap myself dat ek die kilometers aftel. Ouboet vra elke vyfhonderd meter bekommerd hoe ver dit nog is. Kleinboet is 'n ewige terggees. Elke keer as sy broer dit vra, sê hy, "Ons gaan sonder petrol staan!" wat 'n semi-tranerige tirade uitlok oor "boetie lelik is met hom." Toe die 10 kilometer bordjie uiteindelik verbykruip, is my geduld op en ek sê in my kwaaiste nie-bulderstem vir hulle om stil te bly. Die laaste bult voor Beaufort-Wes doem eindelik op.

"Ek het mos gesê ons gaan dit maak!" sê ek triomfantelik. Ouma reageer nie, maar trek van die pad af. "En nou?" vra ek.

"Ons stop."

"Vir wat? Dis net 'n bult. Trap die petrol dieper in!" Soms kan pa's regtig dom opmerkings maak.

"Ons kan nie meer ry nie."

"Hoekom?"

"Want ons het sonder petrol gaan staan!!" bulder Ouma die ooglopende nuus uit.

Oeps. Sonder 'n woord klim ek uit die kar uit en vat die leë koeldrankbottel en my beursie.

"Waarheen gaan Pappa?" huil die seuns.

"Pappa gaan petrol haal," sê Ouma. "En ons gaan net hier wag." Ek begin wegstap. Ek weet nie of ek 'n uur gaan stap of 'n halfuur nie. Ek weet nie of ek moet duimgooi nie. Die pad is besig en karre swiep onverpoosd by my verby. Vyf treë verder stop 'n kar langs my.

"Kan ons help?" vra die vrou in die voorste passasiersitplek vriendelik.

"Ek het my misgis met die hoeveelheid petrol in my kar," verduidelik ek verleë. Ek het lanklaas sulke dierbare mense teëgekom. Hulle het verbygery, my gesien wegstap van die kar af met Ouma nog binne-in en gedink, siestog, die arme mense. Toe draai hulle om en laai my op. Eintlik is hulle oppad Kaap toe vir 'n vakansie aan die Weskus. Terug by my eie motor skud ek dankbaar die barmhartige samaritaan se hand.

"Is daar geen manier waarop ek jou kan vergoed nie?" vra ek toe hy regmaak om weg te ry.

"Ek gaan baie kwaad wees as jy dit probeer doen," kom die vriendelike antwoord. Die seuns skree hulle blydskap uit toe ek terugklim in die kar. Maar Ouma sit haar sit in die passasiersitplek en gee woordeloos vir my die kar se sleutel.

"Ek het in jou kar se boekie gekyk," sê sy na 'n rukkie, "hulle skryf as die petrolliggie begin brand, moet jy so gou as moontlik brandstof ingooi!"

0 comments:

Post a Comment

LinkWithin

Related Posts with Thumbnails